Attila die Hun

Attila die Hun
Heerser van die Hunniese Ryk
Bewind 434–453
Gebore ca. 406
Gesterf Maart 453
Voorganger Bleda en Ruga
Opvolger Ellac, Dengizich, Ernak
Gade Kreka
Ildico
Vader Mundzuk
Geskatte omvang van die Hunne-ryk en onderworpe stamme onder Attila.
"Die feesmaal van Attila", deur Mór Than.

Attila (406-453), ook Attila die Hun genoem, was van 434 tot sy dood in 453 'n koning van die Hunne ('n antieke volk van Asië). Hy was die leier van die Hunniese Ryk, wat van die Oeral-rivier tot die Ryn en van die Donau tot die Oossee gestrek het. Attila het die Romeinse Ryk aangeval en beheer oor groot dele daarvan geneem. Hy was berug as 'n wrede, gewelddadige man.[1]

Tydens sy heerskappy was hy een van die mees gevreesde vyande van sowel die Wes-Romeinse Ryk as die Oos-Romeinse Ryk. Hy steek die Donau-rivier twee keer oor om die Balkan te plunder, maar was nie in staat om Konstantinopel te verower nie. Hy probeer ook Romeins-Gallië (die moderne Frankryk) te verower. In 451 steek hy die Ryn oor en masjeer na Aurelianum (Orléans), maar is tydens die Slag op die Katalauniese Velde verslaan (die enigste veldslag wat hy verloor het).[2]

Vervolgens val hy Italië binne, waartydens hy die noordelike provinsies verwoes, maar was nie in staat om Rome te verower nie. Hy het planne vir verdere veldtogte teen die Romeine gehad, maar sterf in Maart 453, die aand na sy huwelik met 'n vrou genaamd Ildiko. Ná sy dood het sy adviseur Ardarik van die Gepide 'n Germaanse opstand teen die Hunne gelei, waarna die Hunniese Ryk vinnig in duie gestort het. Volgens 'n legende is die oorskot van Attila die Hun onder 'n afgeleide gedeelte van die Tisza begrawe.

Hoewel hy sulke groot mag gehad het, het Attila baie eenvoudig geleef. Hy het die ruwe en eenvoudige leefwyse verkies en gerief verafsku. Die gevolg was dat sy paleis nooit juis iets anders as 'n houthut was nie, en terwyl sy gaste uit silwerbekers gedrink het, het hy altyd 'n houtbeker gebruik.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Artikel op britannica.com

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne